Gereformeerde
Tuisblad Administrasie Preke & Publiksasies Jeugbediening Gemeente Geskiedenis Galery Kontak Ons

Copyrigtht© 2010 Designed and Maintained by: Garden Route Web Projects cc

WIE IS DIE GEREFORMEERDE KERK GEORGE?
Die Gereformeerde Kerk George is Afrikaanssprekende christen gelowiges binne die groter kerkverband van die Gereformeerde Kerke  van Suid Afrika (GKSA) en is deel van die breër Protestantse Kerke, wat die reformatoriese belydenisse onderskryf..

Ons glo in die enigste ware lewende God: Vader, Seun en Heilige Gees. Sy Seun wat mens geword het, Jesus Christus, is ons Verlosser en Saligmaker. Ons glo en bely dat die 66 Kanonieke Boeke in die Bybel alleen die onfeilbare Woord van God  en die volkome leer van die saligheid is. Ons bely die drie wêreldwye Ekumeniese Belydenisskrifte (Apostolicum, Niceanum en Athanasium),  sowel as die Drie Formuliere van Eenheid (Nederlandse Geloofsbelydenis, Heidelbergse Kategismus en Dordtse Leerreëls) as die belydenis van die ware geloof.

Ons bely dat ons ‘n ware kerk van ons Here Jesus Christus is. Ons pobeer om te midde van ons sondige swakheid en gebrokenheid, steeds ‘n ware kerk te bly. Ons ag dit ‘n hoë prioriteit om die merktekens van die ware kerk te laat skitter in die suiwere verkondiging van die Woord, suiwere bediening van die sakramente en die gedissiplineerde bediening van die kerklike vermaning en tug. Ons eredienste is vir ons ‘n heilige ontmoeting van die Here met Sy kerk, waarin Sy Woord en die prediking ‘n sentrale plek het. In ons eredienssang, sing ons goedgekeurde beryminge van die Skrif en Psalms.

Ons gemeente bestaan uit 70 dooplidmate en 352 belydende lidmate. Hierdie 422 lidmate dek die volle spektrum van al die ouderdomsgroepe van babas tot in die tagtigerjariges, waarvan die meerderheid ouer as 50 jaar is. Die kinders word bedien met gereelde kategese onderrig. Al die lidmate word pastoraalbedien met gereelde huisbesoeke deur die ouderlinge en die predikant. Die behoeftige lidmate word deur die diakens in hulle nood versorg. Ons begeerte en strewe is dat elke lidmaat, met die gawes wat hy/sy ontvang het, vir die Here,  Sy kerk en vir mekaar moet dien. Alle bediening in die gemeente word in Afrikaansmedium gedoen, omdat die gemeente uit 99% Afrikaanssprekendes bestaan.

Ons deure is oop vir enige mens – ongeag taal, kultuur of  kleur – wat sy/haar heil en saligheid in ons Here Jesus Christus soek. Ons nooi elkeen wat hierdie dierbare geloof met ons deel en wat opsoek is na ‘n geestelike tuiste, om deel te wees van ons as die Gereformeerde Kerk George. U is baie welkom!